Uitgegee deur LAPA Uitgewers
Anoniem, uitgegee deur LAPA Uitgewers is Chanette Paul se 50ste roman. Vir my is Chanette ʼn absolute ikoon – min mense kan haar dit nadoen om boeke van 400+ bladsye en sommige selfs oor die 600 bladsye te skryf, om nie eens te praat van die navorsing wat in haar werk ingaan nie … en sy laat die leser beslis nie een oomblik verveeld nie.
Ek het proe-proe gelees aan Anoniem… ek wou nie hê die lekker moes opraak nie. Hier is my leeservaring van Anoniem.
Kan jy vlug van wie jy werklik is? Lula Prins wil oor begin op Heydendal. ʼn Nuwe lewe, ʼn nuwe dorp, ʼn nuwe naam. Anoniem.
Is dit nie maar wat sommige mense wens nie? Ek weet ek het al! Dalk nou nie ʼn nuwe naam nie – ek hou immers van die naam wat my ma my gegee het. Maar dalk sal ek weer die identiteit wat ek êrens langs die pad verloor het – in dit wat ons die lewe noem – weer wil terugkry. Dalk wil ek myself net in ʼn posisie sit waar ek my nuwe drome gestalte kan gee.
Gebeure in Dr Lula Prins se lewe laat haar soek vir ʼn plekkie waar sy kan wegraak. Dit vind sy in Heydendal. Sy moet natuurlik eers die verwaarloosde plek vir haarself leefbaar maak. Vier jaar later is sy steeds op Heydendal. En dit lyk of haar verlede haar gaan inhaal. “Die vrees dat sy ontmasker kan word, haar daad aan die lig sal kom en sy die gevolge sal moet dra, is versmorend.” (Bl. 78)
Lula werk vir Belletrie Uitgewers op ʼn vryskutbasis as keurder en manuskripontwikkelaar. Sy bied skryfskole aan. Sy skryf ook liefdesverhale onder die skuilnaam Tallie Lategan. Chanette gee ons ʼn kykie agter die skerms van hoe ʼn paar dinge in die uitgewersbedryf werk. (Wanneer ek net dink aan die keurderverslag, dan dink ek my storie moet maar eerder in my kop bly.)
Dan hoor sy van Dian Kruger se selfdood nadat sy manuskrip waaraan hy vele jare gewerk het afgekeur is. Dié keer finaal afgekeur. Alhoewel keuring anoniem plaasvind, kom sy tog agter dis een van dié wat sy onder oë gehad het.
By sy begrafnis ontmoet sy Dian se ouer broer, Kriek en hul eksentrieke tante, Lillibet. Sy stel haarself voor as Tallie. Soos die storie verloop probeer Kriek agter die rede vir sy broer se selfdood kom en wie hom daartoe gedryf het. Hy wonder oor die manuskrip en of dit werklik so sleg was. Mens kom ook agter dat Kriek en Dian saam aan die storie gewerk het. Hy en Dian het die storie-idee deurgepraat en Dian het dit geskryf. Kriek het die rare Irlen-sindroom, wat die rede is waarom hy nie by die skryf-proses betrokke was nie. Dit is vir Kriek belangrik dat Dian se boek wel gepubliseer word. Hy word so deur Tallie aangetrek dat hy haar oorreed om aan die herskryf van Dian se boek te werk.
“Wat is dit aan Tallie wat hom so na haar aantrek? . . . Wanneer laas het hy ʼn vrou ontmoet wat nie ʼn agenda het nie? Wat nie ʼn rol in ʼn film wil beding nie. Wat nie daarop uit is om baat te vind by wat hy kan bied nie. Wat nie bloot agter seks of geld of roem of wat ook al aan is nie. Net is wie sy is.” (Bl. 106)
Tallie se lewe raak verstrengel in dié van Kriek, Lillibet en die mense van Heydendal. Dis ʼn moet-lees boek – sodat jy self proe-proe die intriges kan ontrafel. Daar is sommer lekker baie intriges – ʼn paar storielyne, wat later almal sin maak in die groter prentjie van die verhaal. Sekere storielyne word al vroeg in die boek aan die leser bekendgemaak, terwyl ander eers later vir die leser duidelik word. Die lekkerte van Anoniem is dat jy beslis nie deur vervelige omgewingsbeskrywings hoef te worstel om deur die boek te kom nie. Elke woord tel, elke woord het ʼn doel in hierdie verhaal.
Ek het die Vyver-vroue gelees en heelwat van haar Romanzas. Die eintlike rede waarom ek nié ʼn vergelyking wil maak nie is omdat Anoniem in ʼn klas van haar eie is. Anoniem is immers boek nommer 50 wat Chanette drie keer heeltemal oorgeskryf het en ʼn vierde keer streng geredigeer het! Ons is gewoond aan die kwaliteit skryfwerk wat ons van Chanette Paul kry, dat mens verstom staan dat sy ʼn nóg beter manuskrip die lig laat sien het.
Anoniem is ook een van daardie boeke wat ʼn permanente plek op my boekrak het. Een wat ek beslis weer sal lees en bitter suinig sal wees om uit te leen.
Beslis ʼn vyfster boek!
© Surene Esterhuizen