Soms beland daar ‘n digbundel op my rak … ‘n Ander wêreld deur Eunice Basson is ‘n groot bederf en word uitgegee deur Protea Boekhuis. Ek het eintlik iets wat moet klaar kom, maar vanaand voel ek oorweldig en moes net ‘n breek neem.
Die volgende paar gedigte het sommer my gemoed lekker verander: Die nag, Droomjagter – wat my aan my hond laat dink wanneer hy so lekker droom, ‘n Dag soos alle ander, Dagdrome, Randeier, Ek hou jou met albei hande vas en Fragmente van onthou … om maar net ‘n paar uit te lig.
Ek lees gedigte omdat dit vir my lekker is. Ek kan nou nie ‘n ontleding doen soos Prof Alwyn Roux nie, maar ek kan darem uitstekende skryfwerk herken wanneer ek dit raak lees en dit beslis daarom baie geniet.
Kieskeurige lesers van poësie sal beslis deur Basson se digkuns bevredig word, maar dis beslis ook toeganklik vir die gewone leser soos ek wat net hou van die samevoeging van beskrywende woorde wat mens sommer net met ander oë laat kyk na die wêreld rondom ons. Dan is dit ook so heerlik bevrydend – weg van die dinge wat net mens se dag op sy kop kom keer.
Bestel gerus direk vanaf Graffiti Books
Ek deel die onderstaande direk vanaf Protea Boekhuis:
Eunice Basson se derde bundel staan in die liriese en suggestieryke tradisie van haar twee vorige bundels: Leiboom (2014, Queillerie) en By die dag (2020, Protea Boekhuis). In ‘n Ander wêreld fokus sy op die skoonheid en besondersheid van die alledaagse bestaan, die wonder van die kleine moment en die ander wêrelde wat hierdeur geaktiveer word:
Klein koninkryk
In ‘n droë blomsteel van ‘n agapant
is ‘n wêreld in die kleine versteur
toe verkenners soos ‘n oop kraan
oor die tuinier se snoeiskêr spoel:
Verskans teen die koue skuil
‘n nes swart miertjies wat paraat
oor hordes larwes waak tot die eerste
tekens van lente hier en daar
in klein botsels aanmeld, dopluise
vol heuningdou hulself vir die kolonie
aanbied, en ‘n nuwe geslag afstig
met ‘n bloedeie koningin.
Vir die tuinier: ook ‘n nuwe seisoen
van snoei en bot, van bloei en verwelk.
Prof. Alwyn Roux skryf die volgende oor die bogenoemde gedig: “[Hierdie gedig] illustreer pragtig hoe ‘n mikrokosmos binne ‘n agapant-blom vasgevang word. Nie alleenlik fokus die inhoudelike aspekte op hierdie fantastiese element van die blom en die ander wêreld wat dit huisves nie, maar dit zoem ook uit na die tuinier wat die blom snoei. Die digter is dus ook ‘n samesteller van ‘n bloemlesing, wat hierdie ander wêrelde van die natuur nader aan die mens se realiteit bring, maar self ook aan dieselfde natuur, van lewe, groei en doodgaan, onderdanig is.”
Basson se woordskilderye is klankryk, organies en intuïtief, maar is ontdaan van sentimentaliteit. Sy skryf oor die natuur en wêreldgebeure, asook treffende gedigte oor haar familiegeskiedenis en die dood van haar broer. Baie lesers sal hulle met die temas in die bundel kan vereenselwig.