Saggies ontwaak my hart deur Magda Schmidt
9781779870339, uitgegee deur LAPA Romanza
Karen is van voornemens om nie in ʼn verhouding betrokke te raak voordat sy heelwat ouer is nie – totdat haar gunstelingneef haar aan George Ferreira voorstel. Na ʼn paar maande wil George hul verhouding verder voer wat indruis teen Karen se sterk beginsels. Intussen ontdek sy ook ʼn sagte plekkie vir Werner, die kreupel ouer student wat op dieselfde perseel in ʼn woonstel woon.
Sy ontdek dat sy en Werner baie meer gemeen het as sy en George. Soos die verhaal vorder, ontdek sy ook al hoe meer verskille tussen George en Werner, wat nie in George se guns tel nie. Sy en Werner deel beide ʼn liefde vir Maria Callas se musiek en die lied “Saggies ontwaak my hart” roer Karen se hart op ʼn vreemde manier. ʼn Insident wat Karen se veiligheid bedreig laat haar opnuut met nuwe oë na beide mans kyk.
Gaan Karen betyds die verskil tussen verliefdheid en ware liefde ontdek? Gaan ware liefde seëvier?
Saggies ontwaak my hart is geklassifiseer as ʼn moderne Romanza, maar herinner tog sterk aan die meer ernstige liefdesverhale soos die van Ena Murray en haar tydgenote – soos dié wat ek skelm as tiener uit my ma se boekrak gelees het wanneer sy haar Sondagmiddag slapie geniet het.
Dis ʼn lekker-lees liefdesverhaal wat ek beslis aanbeveel.
Saggies ontwaak my hart is te koop by die meeste boekwinkels, aanlyn op www.lapa.co.za, asook by Graffiti Boeke.