Om aan ʼn ster te raak deur Frenette van Wyk, ISBN 978-1-77987-035-3 Romanza ʼn druknaam van LAPA Uitgewers
Die jeep kantel weer en haar kop ruk eenkant toe, tref die kant van die deur met ʼn harde slag. Alles om haar raak swart. (9)
Shiloh word wakker in bevind haarself half begrawe in die sandduin. Sy wonder waar Yusuf en die res van die toerlede is. ʼn Ent weg sien sy vir Azalay opstaan. Hy kyk by haar verby en sy kyk om. Sy sien die klomp kamele met hulle ruiters nader kom.
Hulle ontmoet vir Nouvel en besef hulle het op ʼn onverklaarbare wyse in die Arabiese woestyn beland. Hulle besef ook dat hulle met hom in Aramees praat en kom agter hulle het duisende jare in tyd teruggereis. Toe hulle by Nouvel se karavaangeselskap aankom vind hulle mettertyd uit dat hulle hul moontlik bevind in die jaar van Jesus se geboorte.
Saam met die drie wyse manne volg hulle die Bethlehemster. Azalay is ʼn toegewyde Christen en is opgewonde oor waar hy hom bevind en hoop om antwoorde op sy vrae te kry, Shiloh is opstandig oor haar onlangse egskeiding en die rede wat daartoe gelei het en as gevolg daarvan glo sy nie meer nie. Hul omstandighede is uitdagend. Azalay wil Shiloh beskerm, maar sy is wispelturig oor wanneer sy sy hulp wil aanvaar of nie.
Azalay se droom is om saam met die Wyse Manne die ster te volg. Gaan Azalay sy antwoorde kry en homself vind? Gaan Shiloh weer begin glo? Gaan die liefde seëvier?
Hoe gaan hulle die vreemde reis oorleef en weer terugkom in die 21ste eeu?
Dit was ʼn heerlike verhaal om te lees. Boeke van Frenette wat ek onlangs gelees het is: Vlinderdraai, Wintersprokie, Geliefde rebel, Soene in ‘n sandkasteel, Sonvanger en In sonskyn en storms. Juis omdat ek hierdie verhale gelees het was ek nuuskierig oor hoe Om aan ʼn ster te raak sy verloop sou neem en was aangenaam verras. Ek was in 2022 in Israel en dieselfde gevoel van absolute verwondering wat ek in Jerusalem beleef het toe ek in Jesus se spore gestap het, het ek met die lees van hoofstuk 20 beleef. Die versugting in my hart: I wish I was there!
©Surene Esterhuizen