Jani Jonker gloei in die donker deur Fanie Viljoen, met pragtige illustrasies deur Emily House
ISBN 9780637005586, LAPA Kinder- en Jeugboeke, Sagteband @ R160
I wish I was a glow worm: A glow worm’s never glum. ‘Cos how can you be unhappy When the sun shines out your bum!
Hierdie oulik boekie wat geskik is vir jong lesers van 9+ jaar het my onmiddellik aan dié gediggie laat dink!
Jani Jonker en haar jonger boetie, Martin, jag vuurvliegies. Jani probeer hard om die eerste een te vang om te keer dat Martin haar vir ʼn derde keer wen.
Sy word verras deur ʼn besonder helder vuurvliegie. Maar toe die vuurvliegie haar byt, is sy minder beïndruk. Die bytplek brand soos vuur. Daardie aand in die bed gebeur ʼn vreemde ding. Jani begin in die donker gloei! Sy besef sy gaan die bespotting van die skool wees. Sy probeer hard om haar ma te oortuig om nie skool toe te gaan nie, maar sy slaag nie daarin nie.
Allerhande dinge begin gebeur wat haar in situasies plaas waar sy saans saam met maats moet wees … in die donker! Hoe gaan sy die geheim vir haar klasmaats wegsteek? Wat gaan hulle doen wanneer hulle uitvind Jani Jonker gloei in die donker? Uitvind gaan hulle verseker, want daar is net te veel dinge wat teen Jani tel!
Dis ʼn lekker-lees boek en laat my weer in verwondering oor die wonderlike kinder- en jeugboeke wat beskikbaar is. Ek beny mense soos Fanie Viljoen hulle wonderlike verbeelding om sulke lekker stories uit te dink.
Ek gee hierdie boek maklik 5 sterre, want as ek dit so geniet het sal ons kinders dit beslis nog méér geniet.